Oor Ons

God se Verhaal met ons Gemeente

Wanneer ‘n mens ‘n dankbare terugblik neem oor ‘n periode van honderd-agt-en-dertig jaar, dan gee jy onmiddellik eer en dank aan God vir sy verbondstrou aan sy verbondsvolk. Terselfdertyd gee ons erkenning aan voorgangers in diens van die Here, onder andere leraars, ouderlinge en diakens, toegewyde mans en vroue en jongmense wat met soveel onverdrote ywer ‘n betekenisvolle bydrae in die gemeente gelewer het.

Onvergeetlike momente, as komende van God, het inderdaad ons gemeente in staat gestel om ‘n reuse aandeel te hê op kerklike, nasionale, politieke sowel as ekumeniese terrein. Ja, VGK Malmesbury het voorwaar geestelike droogtes en krisisse beleef, maar die oorwinnings en geestelike hoogtes was veel meer as laagtepunte.

Die sin en betekenis van kerkwees lê egter nie in die gryse vergetelheid van die verlede nie, maar in die blou ruimte wat God vandag tot ons beskikking stel – derhalwe moet ons toekomsgerig wees. Deesdae kyk ons positief vorentoe met optimisme en geloofsverwagting, wetend dat God trou bly aan al Sy beloftes. Hy wie ons die afgelope honderd-agt-en dertig jaar gedra en gelei het, sal ons ook triomferend en oorwinnend die nuwe era indra.

Leraars In Die Bediening Van Die Gemeente

'n Totaal van 18 leraars het ons gemeente bedien naamlik:

LERAARS TYDPERK
Eerwaarde Daniël Johannes Joubert 1881 – 1893
Eerwaarde Jan Pieter De Villiers 1893 – 1898
Eerwaarde Stephen B. Weich 1899 – 1909
Eerwaarde Carel Johannes Grové 1909 – 1925
Eerwaarde PJ van der Walt 1925 – 1939
Eerwaarde James J. Higgo 1940 – 1944
Eerwaarde Chistiaan Johannes Liebenberg 1946 – 1960
Eerwaarde Charl Francois Sieberhagen 1958 – 1960
Eerwaarde Roelof Hendrik Venter 1960 – 1963
Ds Ockert J. Erasmus 1961 – 1963
Ds David Petrus Botha 1964 – 1968
Ds Eberhard Karl Johannes Schreve 1965 – 1989
Ds Pieter Eduard Du Toit 1968 – 1971
Ds Ockert Johannes van der Walt 1974 – 1977
Ds Johan George Botha 1978 – 1980
Ds Michael S Lemboe 1981 – 2014
Ds Eugéne E. Beukes 1988 – 1996
Ds Quentin Shaun Minnaar 1 September 2018 - Hede

Die VGK Malmesbury leef op die oomblik in ‘n gloed van Christelike blydskap. Die gemeente het besef dat ‘n bietjie meer blydskap sal beslis van hierdie wêreld ‘n beter plek maak om in te leef en te werk. Maar ons moet ook goed kan onderskei tussen die blydskap van God en die blydskap van die wêreld. Die wêreld se blydskap is soms soos die van die verlore seun. Dit gaan verby. Die blydskap van God is blywende vreugde van die feesmaal in die Vaderhuis waar ons tuishoort.

Ons as gemeente glo dat die opdraande en steiltes van gister afdraande vir môre word en dat die VGK Malmesbury van krag tot krag en van oorwinning tot oorwinning gaan.

Besoek VGKSA Webblad