Wanneer ‘n mens ‘n dankbare terugblik neem oor ‘n periode van honderd-agt-en-dertig jaar, dan gee jy onmiddellik eer en dank aan God vir sy verbondstrou aan sy verbondsvolk. Terselfdertyd gee ons erkenning aan voorgangers in diens van die Here, onder andere leraars, ouderlinge en diakens, toegewyde mans en vroue en jongmense wat met soveel onverdrote ywer ‘n betekenisvolle bydrae in die gemeente gelewer het.
Onvergeetlike momente, as komende van God, het inderdaad ons gemeente in staat gestel om ‘n reuse aandeel te hê op kerklike, nasionale, politieke sowel as ekumeniese terrein. Ja, VGKSA Malmesbury het voorwaar geestelike droogtes en krisisse beleef, maar die oorwinnings en geestelike hoogtes was veel meer as laagtepunte.