Personeel

Leierskap van VGK Malmesbury

Ds Quentin Shaun Minnaar

Ek is afkomstig van Ceres en het in 2005 aan die Hoërskool Charlie Hofmeyr gematrikuleer. Om eendag ‘n predikant te word, was nooit ‘n opsie op skool nie omdat ek graag ‘n musiekonderwyser wou word. Aan die einde van graad 11 het ek egter ‘n lewensveranderende geestelike belewenis ervaar wat my oortuig het dat ek geroep is om ‘n predikant te word. My toekoms mag dalk ander planne ingehou het vir my, maar vandag is ek steeds baie lief vir musiek en speel ek graag klavier, orrel en trompet.

Direk ná skool skop ek my studies in teologie af aan die Universiteit van Stellenbosch se Teologiese Fakulteit. Sedertdien het ek die volgende grade aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf: Baccalareus in die Teologie (BTh) in 2009, Meestersgraad in die Godsgeleerdheid (MDiv) in 2010, Lisensiaat in die Teologie (LisTeol) in 2011, en ‘n Meestersgraad in die Teologie cum laude (MTh) in 2018.

Kort na my aanvanklike studies wat ek in 2011 voltooi het, word ek in 2012 aangestel as Hulpprediker in die VGK Sarepta, Kuilsrivier. Op 26 Januarie 2013 word ek bevestig as predikant van VGK Okiep in Namakwaland. Ek groet die gemeente van Okiep op 19 Augustus 2018 en is op 1 September 2018 as predikant van VGK Malmesbury bevestig.

My groot passie van die bediening is prediking én die toerusting van gelowiges om as dissipels te leef op alle sfere van hul lewe en die samelewing. Ek beskryf graag my bediening in die gemeente as ‘n reis waarop ons nuwe kante van onsself ontdek en sien, asook nuwe kante van God. My prioriteit in die gemeente is om saam met die gemeente te onderskei waar God rééds aan die werk is in die gemeente en gemeenskap, en om dan by Hom as medewerkers aan te sluit.